Welcome PUBLIC


  
    Stellenbosch Alumni-kantoor     
    USB Alumni-kantoor     

Bev Witten, Direkteur: Alumniverhoudinge

Met jare se ervaring op die gebied van internasionale alumniverhoudinge is Bev tans spanleier van Alumniverhoudinge (AV) aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy 'n geďntegreerde, mededingende strategie vir alumniverhoudinge ontwikkel het wat daarop afgestem is om deelname en jaarlikse skenkings deur alumni te vermeerder en aan te moedig. Voordat sy haar by die Matiesfamilie aangesluit het, was Bev aan die stuur van AV-sake by die Nagraadse Skool van Opvoedkunde by Harvard, waar sy die streeks-, nasionale en internasionale uitreik- en skakelingstrategieë vir meer as 25 000 alumni bestuur het.

Kontakbesonderhede:
bevwitten@sun.ac.za
+27 21 808 9263

 


Heidi October, Bestuurder: Alumniverhoudinge

Heidi het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het meer as tien jaar ervaring in openbare betrekkinge en alumniverhoudinge aan die Universiteit, met 'n lewendige belangstelling in diversiteitskwessies. As deel van uitruilooreenkomste het sy al verskeie universiteite, sowel plaaslik as buitelands, besoek waar sy insig in hul verskillende alumniprogramme bekom het. Haar professionele belangstellings strek van gespreksfasilitering tussen kernbelanghebbendes tot die ontwikkeling van studenteleierskap.

Kontakbesonderhede:
hoctober@sun.ac.za
+27 21 808 2948

 


Marvin Koopman, Geleentheidskoördineerder

Marvin het sy vaardighede as geleentheidskoördineerder en hotelbestuurder in die Verenigde Koninkryk geslyp waar hy ná sy opleiding aan die gerekende IHT-hotelskool in Kaapstad gaan werk het. Terug in Suid-Afrika het hy méér ervaring op gasvryheidsgebied opgedoen deur by verskeie instansies in die Wynlandgebied te werk, onder meer by die Coopmanhuijs-boetiekhotel & -spa op Stellenbosch, wat destyds pas sy deure oopgemaak het. In 2010 sluit Marvin hom as Geleentheidskoördineerder vir Alumniverhoudinge by die Matiesfamilie aan.

Kontakbesonderhede:
marvin@sun.ac.za
+27 21 808 9265

 


Liezl Scholtz, Kommunikasiebeampte

Nadat sy haar by die destydse Skiereilandse Technikon in die Joernalistiek bekwaam het, het Liezl ander kreatiewe velde verken. Haar liefde vir woorde het egter geseëvier en kort voor lank was sy joernalis by Volksblad, die grootste koerant in die Vrystaat. In 2007 sluit sy haar as webjoernalis by die Afdeling Kommunikasie en Skakeling van die Universiteit Stellenbosch aan waar sy as redakteur van die weeklikse e-nuusbrief, die Boschtelegram, en as moderator van die Universiteit se nuusblogs opgetree het. Sy beklee haar huidige pos by Alumniverhoudinge sedert 2011.

Kontakbesonderhede:
liezls@sun.ac.za
+27 21 808 9348

 


Louise Enslin, Jaarfondsbeampte

Kort nadat Louise haar graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het sy Suid-Afrika vir Engeland verruil waar sy haar in 2008, ná ʼn ruk as Musiekonderwyser, by die Departement van Ontwikkeling en Korporatiewe Sake van die Trinity Laban Konservatorium vir Musiek en Dans aangesluit het. Louise se mandaat behels onder meer die bou van ʼn jaarlikse skenkingsprogram aan die Universiteit Stellenbosch wat daarop toegespits is om alumnideelname aan die verwesenliking van die Universiteit se visie en missie te verhoog.

Kontakbesonderhede:
enslin@sun.ac.za
+27 21 808 9351

 


 

Oor ons

Onderwys is die kragtigste wapen waarmee jy die węreld kan verander”
Nelson Mandela, ontvanger van 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch, 1996

Om van 'n universiteit te gradueer is 'n groot stap in enigeen se lewensreis. Sodra jy jou graad verwerf het, beweeg jy op die gebied van oudstudente, oftewel  alumni, van jou universiteit.
Die Kantoor vir Alumniverhoudinge aan die Universiteit Stellenbosch streef daarna om alumni van hierdie wonderlike instelling met hul almal mater in verbinding te hou nog lank nadat die euforie van graduering verby is.

Dit is 'n goed gedokumenteerde feit dat die sukses van 'n universiteit grootliks van sy alumni se deelname afhang. Daarom is dit uiters belangrik dat alumni geleentheid kry om opnuut met hul instelling bande te smee nadat hulle in jong volwassenes verander en die vaardighede en kennis ontwikkel het wat nodig is om hulle drome en doelwitte te verwesenlik.
Die strategie van die Alumnikantoor aan die Universiteit Stellenbosch rus op vyf pilare, naamlik uitreik en kennismaking, vroeë studenteskakeling, vrywilligerbestuur, die Jaarfonds, en kommunikasie. Elk van hierdie pilare is 'n integrale deel van die proses om meer geleenthede te skep vir oudstudente om met die Universiteit in kontak te bly, wat nie net 'n sterker band tussen alumni en die Universiteit nie, maar ook onderling tussen alumni self skep.

Behou bande

Stellenbosch-alumni trap diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sowel as op die internasionale toneel - hetsy op die gebied van wetenskap, politiek, sport, ekonomie of kuns. Dink maar aan Sheryll Calder, Riaan Cruywagen, Edwin Cameron, Ernst van Dyk, Thabo Mbeki (eredoktorsgraad - 2004), Ruda Landman, Breyten Breytenbach, Athol Fugard (eredoktorsgraad - 2006), Marlene Dumas, Helen Suzman (eredoktorsgraad - 2006) and Naledi Pandor.

Die Universiteit het tans die besonderhede van sowat 60 000 aktiewe alumni wat oor die hele węreld versprei is, en bly in kontak deur middel van die sesmaandelikse alumnitydskrif, Matieland. Daarbenewens bied ons gereelde geleenthede aan - sowel binne- as buitelands - waar alumni geleentheid kry om op hoogte van die jongste nuus en ontwikkelinge in hul fakulteite te kom, terwyl hulle hul bande met die instelling verstewig. Geleenthede neem die vorm van netwerkonthale, geldinsamelings en stimulerende paneelbesprekings aan - elke geleentheid 'n vertoonvenster van die uitnemendheid waarmee die naam Universiteit Stellenbosch al sinoniem geword het.

Die Kantoor vir Alumniverhoudinge verleen ook steun aan fakulteits- en klasreünies sodat ou vriende en klasmaats hul bande kan hervat. Hierdie reünies sluit ook die van koshuise en verenigings in.

Bly in kontak, maak nie saak waar in die węreld jy is nie. E-pos ons by alumni@sun.ac.za - ons hoor graag van ons alumni. Soek ons andersins in die kuberruimte: Wees op die uitkyk na ons Facebook-blad of gesels met ons by ons Twitter-adres @SU_Alumni.

Terme en Voorwaardes(.pdf)
Webregulasie (.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Stellenbosch Universiteit